Komma
Die komma tree op as ruspunt in 'n sin. 'n Mens gebruik 'n komma in die volgende gevalle:
- Tussen byvoeglike naamwoorde wat by die volgende selfstandige naamwoord behoort:
Daar staan 'n mooi, blink motor in die straat.
- In 'n opsomming (maar nie voor die woord en nie):
Ek het 'n hond, twee katte, ses goudvisse en 'n hasie.
- By 'n aanspreking:
Chris, waar is jy?
Maar, Henk, jy moet mos jou beste doen.
Wat kos die fiets, meneer?
- By 'n bysin of toevoeging wat uitbrei op wat reeds genoem is:
Peter en Pierre, 'n gewilde sangpaar uit Gauteng, het pas 'n nuwe CD bekend gestel.
Die petrolprys, wat al vier keer verhoog is, noop mense om openbare vervoer te gebruik.
- Tussen twee werkwoorde in saamgestelde sinne:
As jy hier om die hoek gaan, kom jy by die bushalte uit.
Sodra die tafel afgedek is, kan ons die skottelgoed was.
Wanneer gebruik 'n mens 'n komma voor wat?
Dit is nie altyd so maklik nie, maar hou in gedagte dat die komma die betekenis van die sin kan verander. Byvoorbeeld:
- Die kinders, wat graag buitentoe wou gaan, was baie luidrugtig.
In hierdie voorbeeld wou al die kinders buitentoe gaan.
- Die kinders wat graag buitentoe wou gaan, was baie luidrugtig.
In hierdie voorbeeld was daar ook ander kinders wat nie buitentoe wou gaan nie en nie luidrugtig was nie.
- Die ou huis, wat byna ineengestort het, word opgeknap.
- Die huis wat die stadsraad geïdentifiseer het, word opgeknap.
Kommas en voegwoorde
'n Mens skryf 'n komma voor die voegwoorde al, derhalwe, gevolglik. Soms voor dog/maar, aangesien, en, hoewel/ofskoon, mits en want en selde voor omdat.
Gewoonlik kom daar nie 'n komma voor dat nie:
- Dit is so warm dat die kraaie gaap.
- Hy wou nie hê dat ek sy werk nasien nie.
Altyd 'n spasie ná 'n komma
In 'n sin is daar altyd 'n spasie ná die komma. So verseker 'n mens dat aan die einde van 'n reël, die komma altyd teenaan die voorafgaande woord is.
Uitsondering
Ná 'n getal, byvoorbeeld wanneer die komma 'n desimale teken is, kom daar geen spasie nie.