Mobiele weergawe | Na groot weergawe




Dubbelpunt

Die dubbelpunt het twee funksies, naamlik as leesteken en in tegniese notasies.

 


Die dubbelpunt as leesteken

 

 

Wanneer die dubbelpunt as leesteken gebruik word, is daar geen spasie vóór die dubbelpunt nie, maar wel 'n spasie ná die dubbelpunt.

 


 

Die dubbelpunt word gebruik om 'n reeks sake wat in 'n sin opgenoem word, in te lei. Byvoorbeeld:

  • Suid Afrika het drie riviere wat in die Atlantiese Oseaan invloei: die Oranje-, Berg- en Olifantsrivier.
  • Onthou om die volgende saam te bring: slaapsak, flits, waterbottel en hoed.

 


 

'n Dubbelpunt word gebruik vóór ‘n aanvulling of ‘n verduideliking wat ná ’n voorafgaande sin verwag word. Byvoorbeeld:

  • Jy moet kennis neem: Die duiwel haal jou wanneer jy laat is!
  • Die reël is duidelik: Samestellings word vas geskryf.

 


Die dubbelpunt word gebruik vóór woorde wat in die direkte rede aangehaal word. Byvoorbeeld:

 

  • Professor Smith sê: “Sorg dat julle julle opdragte betyds inhandig.”
  • Willem verduidelik: “Vir alle praktiese doeleindes is die Suid-Afrikaanse riviere nie bevaarbaar nie.”

 


 

Die dubbelpunt in tegniese notasie

 

As die dubbelpunt gebruik word om deling in wiskunde aan te dui, kom daar 'n spasie voor én na die dubbelpunt. Byvoorbeeld:

  • d : a = c : b
  • 300 : 3 = 100

By wiskundige verhoudings moet daar nie spasies weerskante van die dubbelpunt geplaas word nie. Byvoorbeeld:

  • Die verhouding van laerskool-  tot hoërskoolleerlinge is 15:8.

As daar na 'n teks verwys word (soos 'n Bybelvers, of in akademiese literatuur), kom daar gewoonlik nie 'n spasie voor of na die dubbelpunt nie. Byvoorbeeld:

 

  • Ons vind dié woorde in Psalm 81:4.
  • Verwey (2008:87) het oortuigend aangetoon dat...

 


Daar kom ook geen spasies voor of na die dubbelpunt in tydnotasie nie. Byvoorbeeld:

 

  • Die aanbieding begin om 18:30.

Lees meer

Lees meer oor die dubbelpunt op die Afrikaanse Wikipedia

 






Hulp / Kontak  |  Profiel  |  






© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties