Mobiele weergawe | Na groot weergawe




Trappe van vergelyking

Daar is drie trappe van vergelyking:

  • Die stellende trap. Dit is die gewone vorm van die byvoeglike naamwoord. Byvoorbeeld:
    mooi
    ongewoon
     
  • Die vergrotende trap (ook vergelykende trap of die komparatief genoem) wat gevorm word deur -er agteraan die woord te voeg (of met die woord meer). Byvoorbeeld:
    mooier
    meer ongewoon 
  • Die oortreffende trap (ook die superlatief genoem) wat gevorm word deur -ste agteraan die woord te voeg (of met die woord mees en 'n -e aan die einde van die byvoeglike naamwoord). Byvoorbeeld:
    mooiste
    mees ongewone 

 


Algemene beginsels

 

As ʼn woord op r eindig, skryf ons -der in die vergrotende trap. Byvoorbeeld:

  • ver + der = verder
  • duur + der = duurder

As ʼn woord op ʼn kort vokaal en ʼn g eindig, skryf ons -ter in die vergrotende trap. Byvoorbeeld:

  • sleg + ter = slegter
  • lig + ter = ligter

As ʼn woord op ʼn lang vokaal en ʼn g/d eindig, val die g/d weg in die vergrotende trap. Byvoorbeeld:

  • hoog – hoër  
  • koud – kouer

As ʼn woord op ʼn f eindig, skryf ons -wer in die vergrotende trap. Byvoorbeeld:

  • grof – growwer
  • lief – liewer

As ʼn woord op ʼn s eindig, skryf ons twee s’e in die oortreffende trap. Byvoorbeeld:

  • vars + -ste = varsste
  • fluks + -ste = fluksste

Meer en Mees

 

As ʼn meerlettergrepige woord op ʼn e eindig, gebruik ons meer en mees. Byvoorbeeld:

  • opgewonde – meer opgewonde – mees opgewonde
  • beskeie - meer beskeie - mees beskeie
  • verleë - meer verleë - mees verleë
  • tevrede - meer tevrede - mees tevrede
  • gespanne - meer gespanne - mees gespanne
  • verlate - meer verlate - mees verlate
  • volwasse - meer volwasse - mees volwasse


Swak verlede deelwoorde (soos gebelgd) en teenwoordige deelwoorde (soos winsgewend) neem ook meestal meer en mees om trappe van vergelyking aan te dui. Byvoorbeeld:

  • gebelgd - meer gebelgd(e) - mees gebelgd(e)
  • geanimeerd - meer geanimeerd(e) - mees geanimeerd(e)
  • winsgewend - meer winsgewend(e) - mees winsgewend(e)
  • bedroewend - meer bedroewend(e) - mees bedroewend(e)
  • Uitsondering: gewild - gewilder - gewildste


Ons sien ook dikwels dat woorde van Klassieke afkoms (soos byvoorbeeld woorde wat met -ies afgelei is) meer en mees neem om trappe van vergelyking aan te toon. Byvoorbeeld:

  • esteties - meer esteties(e) - mees esties(e) 
  • amikaal - meer amikaal - mees amikaal


Belangrik by meer en mees:

 

Pasop om die trappe van vergelyking twee keer te vorm. Dit is verkeerd om te sê *meer belangriker of *mees belangrikste.

 


Uitsonderings

 

goed

beter

beste

baie

meer

die meeste

bietjie of min

minder

die minste

dikwels

meermale

die meeste

nuut

nuwer

nuutste

slu

sluwer

sluuste

kwaad

kwater

kwaadste

kwaai

kwaaier

kwaaiste

graag

liewer

graagste

lank

langer

langste

jonk

jonger

jongste






Hulp / Kontak  |  Profiel  |  






© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties