Mobiele weergawe | Na groot weergawe




Deelwoorde

Soos die naam aandui, is 'n deelwoord eintlik 'n woord wat deels 'n werkwoord en deels 'n ander woordsoort is.  Dit kan byvoorbeeld 'n selfstandige of byvoeglike naamwoord, 'n bywoord of 'n ander werkwoord wees.  


Daar is twee soorte deelwoorde: teenwoordige deelwoorde en verlede deelwoorde.

 


 

Teenwoordige deelwoorde

Ons gebruik teenwoordige deelwoorde as die aksie nog besig is om plaas te vind. Ons voeg dan -ende of –end aan die einde van die woord. Byvoorbeeld:

  • Sy is horende doof. 
  • Afrikaans is 'n beskrywende taal.
  • Sy het 'n hartverskeurende verhaal vertel.

Net die woorde doen, gaan, sien, slaan, staan (en hulle afleidings) kry -de. Byvoorbeeld:  

  • Maak seker die oond is warm, sodoende word die kos gaar.
  • Die bestaande stelsel werk nie.

Wanneer die byvoeglike naamwoord egter ná die selfstandige naamwoord staan, kry die woord nie 'n -e aan die einde nie. Byvoorbeeld:

  • Afrikaans is baie beskrywend.
  • Haar verhaal was hartverskeurend.

 


Let op 'n paar uitsonderings soos:

  • versag  - versagtende omstandighede
  • liefhê - liefhebbende moeder
  • sê - veelseggende glimlag
  • vertroos - vertroostende drukkie

Verlede deelwoorde  
Wanneer die aksie reeds plaasgevind het, vorm 'n mens die beskrywende woord deur ge- vooraan en -de, -te of -e agter aan die woord te voeg.

 

Daar is twee soorte verlede deelwoorde: swak en sterk.

 


 

Die swak verlede deelwoorde kry nie 'n klankverandering nie en word meestal in 'n letterlike betekenis gebruik. Byvoorbeeld:

  • Die gesoekte misdadiger is nog nie gevind nie.

Sterk verlede deelwoorde kry gewoonlik 'n klankverandering. Byvoorbeeld:

  • Hulle woon in 'n gesogte woonbuurt.

 

As die woord op k of p eindig, kry dit ge-+-te Byvoorbeeld: 

  • (kook) water word gekookte water 
  • (kap) hout word gekapte hout

As die woord op f, g of s eindig, kry dit ge-+-te of ge-+-de. Byvoorbeeld:

  • (afstof) boekrak word afgestofte of afgestofde boekrak 
  • (droog) vrugte word gedroogte of gedroogde vrugte
  • (was) skoene word gewaste of gewasde skoene





Hulp / Kontak  |  Profiel  |  






© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties