Mobiele weergawe | Na groot weergawe




Slegs hoofletter

'n Sin begin gewoonlik met 'n hoofletter. Byvoorbeeld:

  • Die skape wei in die lande.
  • Ons gaan môre dorp toe.

Wanneer 'n sin met die onbepaalde lidwoord 'n begin, word die volgende woord met 'n hoofletter geskryf. Byvoorbeeld:

 

  • 'n Rekenaar is 'n wonderlike ding.
  • 'n Groot aantal mense het by die fees opgedaag.

Dieselfde geld ook wanneer 'n sin met 't, 'k, of 's begin. Byvoorbeeld:

  • 't Is werklik 'n groot probleem!
  • 'k Weet nie so mooi nie...
  • 's Regtig interessant, hoor!

As die eerste woord in 'n sin 'n simbool is, word die volgende woord nie met 'n hoofletter geskryf nie. Byvoorbeeld:

  • 50 skape wei in die veld.
  • R50 is al wat ek het.

Eiename en plekname word gewoonlik met 'n hoofletter geskryf. Byvoorbeeld:

  • Johan
  • Mercedes-Benz
  • Nando's
  • Drakensberg 
  • Johannesburg
  • Karoo
  • Weskus

Afleidings van geografiese eiename (plekname) en taalname word ook met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • Kaapse, Europese, Amerikaanse
  • Kapenaar, Europeër, Amerikaner 
  • Afrikaanse, Engelse, Griekse, Spaanse

Straatname word altyd met 'n hoofletter geskryf. Byvoorbeeld:

  • Kerkstraat
  • Veertiende Laan
  • 5de Straat 

Name van belangrike geskiedkundige gebeure of tye word met 'n hoofletter geskryf. Byvoorbeeld:

  • die Anglo-Boereoorlog
  • die Tweede Wêreldoorlog (maar: Dit kan lei tot 'n derde wêreldoorlog.)
  • die Renaissance (maar: Mbeki het gepleit vir 'n nuwe renaissance in Afrika.)
  • die Verligting 

Dae van die week en die name van maande word met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • Maandag, Dinsdag, Woensdag
  • Januarie, Februarie, Maart

Die name van openbare vakansiedae en ander feesdae word ook met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • Vryheidsdag, Menseregtedag, Werkersdag
  • Kersfees, Paasfees of Pasga of Pesach, Chanoeka, Ramadaan
  • Moedersdag, Vadersdag, Internasionale Boomplantdag

Die name van tale word met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • Engels, Afrikaans, Zoeloe, Xhosa
  • Standaardafrikaans, Sypaadjie-afrikaans, Kanselafrikaans
  • Ou Engels, Oudengels

Die name van gode en opperweses word ook met hoofletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • God
  • Allah
  • Zeus


In samestellings met persoons- en plekname, word die hoofletters van die eienaam behou. Byvoorbeeld:

  • Rina Hugo-roos
  • Dooie See-rolle of Dooie Seerolle

 






Hulp / Kontak  |  Profiel  |  






© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties