Mobiele weergawe | Na groot weergawe




Slegs kleinletter

 

Die onbepaalde lidwoord, 'n, word altyd met 'n kleinletter gespel. Byvoorbeeld:

  • Sy het 'n katjie gekoop.


 

Die gewone name van diere of plante word gewoonlik met 'n kleinletter gespel. Byvoorbeeld:

  • katjiepiering
  • jakobregop
  • kanferfoelie
  • basiliekruid
  • outeniekwageelhout
  • pietretiefbroodboom
  • gaboenadder
  • zambezihaai
  • roos
  • kat
  • hond
  • vis

Vir die benamings van diererasse, kultivars en plantvariëteite, kyk by Hoof- of kleinetters


 

Geldeenhede word altyd in die middel van 'n sin met kleinletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • Die Europese geldeenheid is die euro.
  • Suid-Afrika het in 1961 die rand as geldeenheid aanvaar.
  • Dit sal jou honderde ponde/dollars kos!


 

Name van gesteentes, minerale en chemiese elemente word altyd met kleinletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • goud
  • kwarts
  • silwer
  • chrisoliet
  • thomsoniet
  • lawrensium
  • einsteinium


 

Byvoeglike naamwoorde wat van eiename afgelei is en wat on- vooraan het, word altyd met kleinletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • onafrikaans
  • onbybels


 

Werkwoorde wat van eiename afgelei is, word altyd met kleinletters geskryf. Byvoorbeeld:

  • amerikaniseer
  • google
  • xerox
  • verengels


In Afrikaans word nagmaal met 'n kleinletter geskryf - dit is 'n tradisie wat reeds in die 1953- en 1983-vertaling van die Bybel gevolg is. Vergelyk byvoorbeeld 1 Kor 11:20 op die webwerf van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Ons skryf ook doop en huwelik met kleinletters.

 


Die gebruik van hoofletters om na God te verwys, is 'n Afrikaanse tradisie wat spruit uit die Nederlandse Statevertaling van die 1600's. In die Statenbijbel is hoofletters gebruik vir voornaamwoorde om na God te verwys, en die tradisie is oorgeneem in die 1933-vertaling van die Afrikaanse Bybel. Dit geld egter nié besitlike voornaamwoorde nie. Vergelyk byvoorbeeld Lukas 1:31-33 in die 1953-vertaling:

31 Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.

32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee,

33 en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
In vers 32 word die betreklike voornaamwoord "Hom" met 'n hoofletter geskryf, en in vers 33 word die persoonlike voornaamwoord "Hy" ook met 'n hoofletter geskryf. In beide vers 32 en 33 word die besitlike voornaamwoord "sy" egter met 'n kleinletter geskryf. Hierdie tradisie (om nie besitlike konstruksies met hoofletters te skryf nie) word gevolg ten einde moeilike konstruksies soos "God Se koninkryk" of "die koninkryk Van God" te vermy.
Let daarop dat die oorspronklike Hebreeus en Aramees glad nie van hoofletters gebruikmaak nie, terwyl Grieks slegs hoofletters vir eiename gebruik. In Engelse en Nederlandse vertalings van die Bybel (uitgeslote die Statevertaling) word hierdie hooflettertradisie ook nie gevolg nie; vergelyk byvoorbeeld die volgende vertalings van Lukas 1:31-33 in Engels en Nederlands:
  • King James Version (Authorized Version) (1611):

    31 And, behold, thou shalt conceive in thy womb, and bring forth a son, and shalt call his name JESUS.

    32 He shall be great, and shall be called the Son of the Highest: and the Lord God shall give unto him the throne of his father David:

    33 And he shall reign over the house of Jacob for ever; and of his kingdom there shall be no end.

  • World English Bible (version 16-2-2002):

    31 Behold, you will conceive in your womb, and bring forth a son, and will call his name ‘Jesus.’

    32 He will be great, and will be called the Son of the Most High. The Lord God will give him the throne of his father, David,

    33 and he will reign over the house of Jacob forever. There will be no end to his Kingdom.”

  • De Nieuwe Bijbelvertaling (2004/2007 Nederlands Bijbelgenootschap)

    31 Luister, je zult zwanger worden en een zoon baren, en je moet hem Jezus noemen.

    32 Hij zal een groot man worden en Zoon van de Allerhoogste worden genoemd, en God, de Heer, zal hem de troon van zijn vader David geven.

    33 Tot in eeuwigheid zal hij koning zijn over het volk van Jakob, en aan zijn koningschap zal geen einde komen.’

 


Name van vakke en vakgebiede word met kleinletters geskryf, behalwe as dit op 'n departement of afdeling dui. Byvoorbeeld:

  • Ek hou van wiskunde, aardrykskunde en geskiedenis.
  • Janine werk by Wiskunde 
  • Aditi het 'n pos gekry by die Departement Aardrykskunde.
  • Ons sal maar by Geskiedenis moet hoor of hulle iemand het wat kan help.

 


 

 

Vir woorde met 'n nieletterlike betekenis, kyk onder Eienaamverbleking.

 






Hulp / Kontak  |  Profiel  |  






© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties