2304 aktiewe gebruikers Teken aan Registreer Na mobiele weergawe |
|||
Kennis van die Koppelteken
Koppeltekens. Party mense kan die goed nie verdra nie en wil dit met wortel en tak uitroei, ander kan nie wag vir ’n geleentheid om dit te gebruik nie. Sommige glo vas dat hoe meer koppeltekens hoe makliker lees ’n woord, ander glo juis die teenoorgestelde. Kom ons kyk vandag ’n bietjie na van die vernaamste plekke waar ’n mens koppeltekens moet, kan en nie moet gebruik nie.
Opeenhoping van klinkers
Die eerste plek waar jy ’n koppelteken moet gebruik, is wanneer daar ’n opeenhoping van klinkers is wat probleme met leesbaarheid kan skep. Byvoorbeeld by woorde soos “bo-op”, “Drie-eenheid”, “foto-omslag” en “Maagde-eilande”. Ewe voor die hand liggend is samestellings met ’n opeenhoping van klinkers. Byvoorbeeld “buite-uitsending”, “koedoe-ingewande” en “senu-ineenstorting”. By sommige woorde met ’n opeenhoping van klinkers is leesbaarheid egter nie ’n probleem nie en hier is koppeltekens onnodig. Byvoorbeeld “boaan”, “taxioorlog”, “pouoogmot” en “weggooiooi”. Hierdie woorde mag egter met ’n koppelteken geskryf word as die skrywer voel dit vergemaklik leesbaarheid.
Duidelikheid
Sommige woorde vereis ’n koppelteken ter wille van betekenisonderskeiding. Vergelyk die woorde “epos” en “e-pos”, “bosluis” en “bo-sluis” en “sandaal” en “sand-aal”.
Woorde van vreemde herkoms
In Afrikaans hou ons baiekeer woorde van vreemde herkoms in die oorspronklike taal. Dit is veral Franse woorde wat hier koppeltekens kry. Byvoorbeeld “crêpe-de-chine”, “eau-de-cologne”, “vis-à-vis” en “vol-au-vent”.
Samestellings met woorde van vreemde herkoms kry ook koppeltekens. Byvoorbeeld “ad hoc-komitee”, “ex officio-lid” en “in vitro-bevrugting”.
Lang samestellings
In Afrikaans, soos met die meeste ander Germaanse tale, kan ’n mens baie lang woorde skryf deur samestellings van naamwoorde saam te voeg. Dit kan egter probleme met leesbaarheid skep. Om sake dus te vergemaklik, kan ’n mens koppeltekens gebruik. Byvoorbeeld, “mikrobiologie-navorsingseenheid” en “ontwikkelingspelerspan-afrigting”.
Daar is egter ’n paar dinge om hier in gedagte te hou. En dis juis hier waar mense soms kleitrap: As so ’n samestelling ’n deel bevat wat ’n byvoeglike naamwoord of telwoord is, mag daar nie ’n koppelteken daarna kom nie. Koppeltekens kom ook nie ná verbindingsklanke nie. Byvoorbeeld, “maatskaplikewerkersvereniging” en “plaaslikeregeringsverkiesing”.
Samestellings met simbole, syfers of letters
By samestellings met syfers, simbole of letters, is ’n koppelteken verpligtend, ook as die simbool of syfer in die middel van ’n samestelling val. Byvoorbeeld, “B-span”, “2013-oesjaar”en “80%-kans”, asook “dubbelkajuit-V6-bakkie”.
Afstandsamestellings
Afstandsamestellings is woorde soos “hoof- uitvoerende beampte”, “top- akademiese bestuurder”, en “langtermyn- finansiële beplanning”. In die vorige AWS was dit opsioneel om ’n koppelteken ná die eerste deel van die woordgroep te skryf, maar volgens die 2017-AWS is dit verpligtend.
Woordgroepsamestellings
Dit is wanneer drie of meer woorde wat op hul eie niks met mekaar te doen het nie met nog ’n naamwoord saamgebind word. Die woorde het dikwels die woorde “en” of “tot” in die middel. Mense wil hierdie soort samestellings gewoonlik met afstandskoppeltekens skryf, maar dit veroorsaak ’n betekenisverskil. Voorbeelde van woordgroepsamestellings is “kaas-en-wyn-onthaal” en “kop-teen-kop-botsing”. Die koppelteken voor die laaste deel is opsioneel en kan daarsonder vas aan die res van die samestelling geskryf word.
Saamgestelde range en ampte
Dit is woorde soos “direkteur-generaal”, ”ouditeur-generaal”, “generaal-majoor” en “skout-by-nag”. Hulle kry almal koppeltekens.
Eienaamverbindings
Die mate van vryheid oor die skryf van samestellings met eiename is waarskynlik die rede waarom mense die vryheid op ander gebruike van koppeltekens wil toepas. Eienaamsamestellings kan dus op ’n paar maniere geskryf word:
Wanneer eienaamsamestellings in die geheel as soortname optree, skryf ’n mens dit altyd vas of met ’n koppelteken – nooit los nie! Dit is woorde soos “Samsung-televisie” en “Mazda-onderdele”. ’n Mens kan dit onderskei van ander eienaamsamestellings deur dat ’n mens ’n onbepaalde lidwoord “’n” daarvoor kan plaas.
Geen koppelteken
Kom ons kyk nou bietjie na gevalle waar ’n mens NIE koppeltekens moet gebruik nie. Ons skryf nie koppeltekens tussen twee i’s nie. Kyk byvoorbeeld na die woord “besproeiing”. Dit geld egter ook wanneer die twee i’s gevorm word weens die toevoeging van ’n voor- of agtervoegsel, byvoorbeeld “antiinflammatories” en “draaiing”.
Vroeër jare het ons woorde wat met die voorvoegsels “nie-”, ”non-”, “eks-” en “oud-” begin met koppeltekens geskryf. Dit is egter lankal nie meer die geval nie. Woorde soos “nieregeringsorganisasie”, “oudregter” en “nonakkoordtoon” kry dus nie koppeltekens nie.
Ten slotte
Koppeltekens word gebruik wanneer ’n woord vir ’n goeie rede nie vas geskryf kan word nie. Wanneer ’n woord vas geskryf kan word sonder ’n koppelteken en dit nie enige probleme met leesbaarheid lewer nie, is dit nie nodig om te gebruik nie.