2906 aktiewe gebruikers

Teken aan
Registreer

Na mobiele weergawe


Deelteken

Die funksie van 'n deelteken is om aan te dui dat twee vokale wat na mekaar volg nie as 'n diftong uitgespreek moet word nie, maar wel as twee verskillende klinkers. 'n Mens sou dus kon sê 'n deelteken verleen 'n ekstra lettergreep aan 'n woord. Byvoorbeeld:

  • vroeë
  • moeë
  • droë 

Indien jy 'n twyfel of jy 'n deelteken moet gebruik, vra jouself of dit die uitspraak van die woord sal beïnvloed. Indien nie, is die deelteken nie nodig nie.


Hoewel deeltekens meestal op 'n e voorkom, kom dit ook soms op ander klinkers voor. Byvoorbeeld: 

  • beïnvloed
  • reünie
  • heroïen
  • proteïen
  • mikroörganisme

Sommige klinkers wat na mekaar volg, word normaalweg nie as diftonge uitgespreek nie en het daarom nie 'n deelteken nodig nie. Voorbeelde hiervan is woorde met ae, soos bylae, draer en dae. Let egter daarop dat woorde wat van Griekse herkoms is en met ae begin tradisioneel wel met 'n deelteken op die e geskryf word. Byvoorbeeld:

  • aërobies
  • aërosol

Woorde wat twee i's langs mekaar het, word ook nie as diftonge uitgespreek nie en kry dus ook nie deeltekens nie. Byvoorbeeld:

  • antiinflammatories
  • kopiis

Let daarop dat indien die twee i's langs mekaar deel van 'n samestelling is, moet dit wel met 'n koppelteken geskryf word. Byvoorbeeld:

  • ski-instrukteur

Woorde wat eindig op -ieel kry geen deeltekens nie, omdat dit nie anders uitgespreek kan word nie, behalwe in 'n verboë vorm. Byvoorbeeld:

  • kommersieel (kommersiële)
  • residensieel (residensiële)
  • finansieel (finansiële)

Let op dat die een e by -ieel wegval in die verboë vorm.

 

 


 

Woorde wat op 'n a eindig en –agtig agterna het, kry 'n deelteken óf koppelteken. Byvoorbeeld:

  • kobraägtig of kobra-agtig
  • babaägtig of baba-agtig
  • sebraägtig of sebra-agtig

 

 

Lees meer

In hoofstuk 5 van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls kan jy meer lees oor die gebruik van die deelteken in Afrikaans. 






  


© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties