3963 aktiewe gebruikers

Teken aan
Registreer

Na mobiele weergawe


Woordsoorte

'n Grondige kennis van woordsoorte is noodsaaklik om goed te kan spel en skryf. As jy byvoorbeeld weet dat Afrikaans 'n eienaam (taalnaam) is, weet jy dat dit met 'n hoofletter geskryf word (want eiename word met hoofletters geskryf). As jy weet dat verafrikaans 'n werkwoord is, weet jy dat dit met 'n kleinletter geskryf word (want werkwoorde word met kleinletters geskryf).

 

Onderstaande oorsig oor woordsoorte poog om 'n paar duimsuigreëls te verskaf - sonder om aanspraak op enige wetenskaplikheid te maak. Dit moet gesien word as basiese toetse wat meestal geld om tussen die hoofkategorieë te onderskei.

 

Wenk: As jy 'n beslissing moet maak oor 'n woordsoort se kategorie, gebruik onderstaande toetse altyd in die volgende volgorde:

  1. Naamwoord
  2. Werkwoord
  3. Adjektief
  4. Bywoord
  5. Die res van die kategorieë

 


 

Naamwoord

 

Sinonieme: nomen (meervoud: nomina); selfstandige naamwoord
Afkorting: N (ook s.nw.)
Betekenis: Gewoonlik een of ander ding (al kan dit soms abstrak wees)
Toets(e):
  1. Kan daar 'n die of 'n voor die woord staan?
  2. Het die woord 'n meervoudsvorm?
Voorbeelde:
  • stoel > die stoel; stoele
  • hondehok > 'n hondehok; hondehokke
Subkategorieë:
  • Soortnaam = konkrete dinge wat getel kan word (stoel; hondehok; Suid-Afrikaner)
  • Versamelnaam = beskryf 'n groep soortname (skool visse; trop skape)
  • Massanaam = goed wat eintlik nie getel kan word nie; neem meestal nie meervoud nie (vleis; goud) (Party bronne onderskei tussen massaname en stofname.)
  • Maatnaam = beskryf 'n afgemete deel van 'n massanaam (twee kilogram vleis; 'n sak goud)
  • Abstrakte naamwoord = ontasbare dinge (liefde; godsdiens)
  • Eienaam = spesifieke persone, plekke, organisasies, publikasies, ens.; neem gewoonlik nie meervoud nie (persoonsnaam = Piet Botha; pleknaam = Oranjerivier; organisasienaam = Microsoft; publikasienaam = Die Burger)  

 


 

 

Werkwoord

 

Sinonieme: verbum (meervoud: verba)
Afkorting: V (ook ww.)
Betekenis: Gewoonlik een of ander aksie of proses (al kan dit soms abstrak wees)
Toets(e):
  1. Kan jy hy of sy voor die woord gebruik (m.a.w. kan iemand dit doen of uitvoer)?
  2. Het die woord 'n verledetydsvorm?
Voorbeelde:
  • speel > hy speel; het gespeel
  • ruik > sy ruik; het geruik
Subkategorieë:
  • Oorganklike hoofwerkwoord = met 'n voorwerp in die sin (hy eet pap; sy kweek groente)
  • Onoorganklike hoofwerkwoord = sonder 'n voorwerp in die sin (hy eet lekker; sy stap graag)
  • Voorsetselwerkwoord = altyd saam met 'n voorsetsel (hy hou van pap; sy beskik oor die vermoë om groente te kweek)
  • Koppelwerkwoord = koppel die sintaktiese onderwerp aan 'n eienskap (hy word 'n onderwyser; sy is skatryk) (is/was, word; lyk; skyn; blyk; ens.)
  • Hulpwerkwoord van tyd = het (hy het sy pap geëet; sy het groente gekweek)
  • Hulpwerkwoord van modaliteit = sal/wil (hy sal môre sy pap eet; sy wil graag groente kweek)
  • Skakelwerkwoord = skakel gewoonlik 'n hulpwerkwoord en hoofwerkwoord aan mekaar (hy sal probeer om sy pap te eet; sy wou hom help om groente te kweek)
  • Omskrywingswerkwoorde = word/is in die passief (die pap word/is deur hom geëet)
  • Samekoppelings = skeibare werkwoorde/deeltjiewerkwoorde/partikelwerkwoorde (hy eet sy pap op - hy sal sy pap opeet)  

 


 

Adjektief

 

Sinonieme: byvoeglike naamwoord
Afkorting: ADJ (ook b.nw.)
Betekenis: Beskryf 'n eienskap van 'n naamwoord
Toets(e):
  1. Kan dit voor 'n naamwoord staan, asook ná die koppelwerkwoord en steeds iets sê oor die naamwoord?
  2. Het die woord trappe van vergelyking?
Voorbeelde:
  • kort 'n kort rok - die rok is kortkort - korter - kortste
  • opgewonde die opgewonde gehoor - die gehoor is opgewondeopgewonde - meer opgewonde - die mees opgewonde
Subkategorieë:
  • Attributief = staan saam met die naamwoord, meestal voor die naamwoord ('n kort rok; die opgewonde gehoor)
  • Predikatief = staan saam met (gewoonlik ná) die koppelwerkwoord (die rok is kort; die gehoor is opgewonde)  

 


 

Bywoord

 

Sinonieme: adverbium (meervoud: adverbia)
Afkorting: ADV (ook bw.)
Betekenis: Beskryf die werkwoord of 'n adjektief
Toets(e):
  1. Beantwoord dit die vraag: "Hoe V/ADJ?"
  2. (Sommiges kan trappe van vergelyking neem)
Voorbeelde:
  • vinnig hy hardloop vinnig (Hoe hardloop hy? vinnig)
  • besonder sy is besonder mooi (Hoe mooi is sy? besonder)
Subkategorieë:

Daar is baie verskillende soorte bywoorde, waaronder:

  • bywoorde van tyd (môre; gister); 
  • bywoorde van plek (hier; daar); 
  • bywoorde van wyse (vinnig; trapsgewys); 
  • bywoorde van graad (besonder; baie; erg); 
  • bywoorde van rigting (boontoe; noord); 
  • bywoorde van maat (ver; baie); 
  • bywoorde van frekwensie (dikwels; gereeld); 
  • bywoorde van modaliteit (miskien; dalk); 
  • bywoorde van ontkenning (nienooit); 
  • bywoorde van skakeling (byvoorbeeld; te wete); 
  • ensovoorts.
LET OP!

Bywoordelike bepalings (ook genoem adjunkte) tree gewoonlik aan die einde van 'n sin in die volgorde tyd, wyse en plek op. Byvoorbeeld:

  • Ek gaan volgende week per motor Kaapstad toe

 


 

Voorsetsel

 

Sinonieme: Preposisie
Afkorting: PREP (ook vs. of voors.)
Betekenis: Dui die relatiewe posisie of verhouding tussen twee elemente aan
Toets(e):
  1. Kan jy 'n lidwoord en naamwoord (byvoorbeeld 'n meubelstuk) ná die woord gebruik?
Voorbeelde:
  • voor/agter/bo-op/onder/langs/binne-in/onderaan die bank
  • onder > onder die trap
  • in > in die kamer
Subkategorieë:   Geen

 


 

Voornaamwoord

 

Sinonieme: pronomen (meervoud: pronomina)
Afkorting: PRON (ook vnw.)
Betekenis: Verskillende betekenisse en funksies, afhangende van die subkategorie
Toets(e):
  1. Persoonlike voornaamwoord: Kan dit in die plek van 'n naam staan?
  2. Besitlike voornaamwoord: Kan dit in die plek van "X se" staan?
Voorbeelde:
  • hy > hy speel = Piet speel
  • haar haar boek = Fatima se boek
Subkategorieë:
  • Persoonlike voornaamwoord = ek; jy; hy; sy; dit; ons; julle; hulle
  • Besitlike voornaamwoord = my/myne; jou/joune; sy/syne; haar/hare; ons; julle; hulle
  • Aanwysende voornaamwoord = hierdie; daardie; dié
  • Vraende voornaamwoord = wie; wat; waar; wanneer; wie se; waarom; hoe; hoekom 
  • Onbepaalde voornaamwoord = niemand
  • Betreklike voornaamwoord = wat; wie; wie se 
  • Wederkerende voornaamwoord = myself; jouself; homself; haarself; onsself; julleself; hulleself
  • Wederkerige voornaamwoord = mekaar  

 

 


 

Lidwoord

 

Sinonieme: artikel 
Afkorting: ART (ook lw.of lidw.)
Betekenis: Bepaal 'n naamwoord
Toets(e):
  1. Is dit die of 'n?
Voorbeelde:
  • die
  • 'n
  • de/den/der/des (slegs in versteende Afrikaanse uitdrukkings) 
Subkategorieë:
  • Bepaalde lidwoord = die
  • Onbepaalde lidwoord = 'n  

 


 

Telwoord

 

Sinonieme: numeraal (meervoud: numerale)
Afkorting: NUM (ook telw.)
Betekenis: Dui aantal aan
Toets(e):
  1. Kan jy dit in syfers uitdruk? Hooftelwoord (Engels: "cardinal number") (Onbepaalde hooftelwoorde kan nie in syfers uitgedruk word nie.)
  2. Dui dit 'n rangorde aan? Rangtelwoord (Engels: "ordinal number")
Voorbeelde:
  • sewentien > 17
  • derde > 3de
Subkategorieë:
  • Bepaalde hooftelwoord = een; twee; drie; ...
  • Onbepaalde hooftelwoord = baie; talle; horde; ...
  • Bepaalde rangtelwoord = eerste; tweede; derde; ...
  • Onbepaalde rangtelwoord = laaste; soveelste; ...  

 


 

Voegwoord

 

Sinonieme: konjunk (meervoud: konjunkte)
Afkorting: CNJ (ook voegw.)
Betekenis: Skakel twee sinne of sinsdele aan mekaar
Toets(e):
  1. Kan jy twee sinne maak as jy die voegwoord verwyder?
Voorbeelde:
  • en > Johan en Fikile het in die ry gestaan = Johan het in die ry gestaan + Fikile het in die ry gestaan
  • terwyl Johan het in die ry gestaan, terwyl Fikile kos gaan koop het = Johan het in die ry gestaan + Fikile het kos gaan koop
Subkategorieë:
  • Neweskikkende voegwoorde = behou onafhanklike woordvolgorde (daar is slegs ses neweskikkende voegwoorde: en; maar; want; of; asmede; dog)
  • Onderskikkende voegwoord = het afhanklike woordvolgorde tot gevolg; dit is al die ander voegwoorde (terwyl; indien; mits; nadat; omdat; ...)  

 


 

Partikel

 

Sinonieme: deeltjie
Afkorting: PTCL
Betekenis: Het gewoonlik geen betekenis op sy eie nie
Toets(e):
  1. Is dit die: (a) tweede nie in 'n sin; (b) se wat besitting aandui; (c) so en soos wat in vergelykings gebruik word; (d) die en sit/staan/loop/lê en nog 'n werkwoord; (e) die van wat 'n gedeelte aandui; (f) die te wat saam met om gebruik word; of (g) die te wat graad aandui?
  2. Is dit 'n voorsetsel of bywoord wat eintlik vas aan die werkwoord geskryf word?
Voorbeelde: Sien hier onder
Subkategorieë:
  • Ontkenningspartikel: nie > Hy is nie moeg nie(Die eerste nie is 'n bywoord van ontkenning.)
  • Besitspartikel: se Suléne se boek is in die kas.
  • Vergelykingspartikel: so/soos > Hy is so arm soos 'n kerkmuis.
  • Skakelpartikelen > Julle moenie so sit en ginnegaap nie!
  • Deelpartikelvan > Drie van die mans het in die hof verskyn.
  • Infinitiefpartikelte > Winnie hou daarvan om boek te lees.
  • Graadpartikelte > Hierdie malvapoeding is te lekker vir woorde!
  • Werkwoordpartikel: op (e.a.) > Sy skryf die name op in 'n boek. Sy sal die name in 'n boek opskryf.
  • Werkwoordpartikel: ver (e.a.) > Sy spring baie goed ver. = Sy kan goed verspring.

 


 

Tussenwerpsel

 

Sinonieme: interjeksie
Afkorting: INTERJ (ook tw.)
Betekenis: 'n Uitroep of uiting wat alleen kan staan
Toets(e):
  1. Kan die woord alleen staan in 'n sin?
  2. Kan die woord gevolg word deur 'n uitroepteken of ellipsteken?
Voorbeelde:
  • Eina!
  • Sjoe!
  • Uhm ...
  • Wow!
Subkategorieë: Geen  





  

© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties