2982 aktiewe gebruikers

Teken aan
Registreer

Na mobiele weergawe


Anglisismes

Engels- en Afrikaanssprekendes leef langs mekaar in Suid-Afrika en kom daagliks met mekaar in aanraking; dit is dus heeltemal natuurlik dat hulle tale 'n invloed op mekaar sal uitoefen en dat anglisismes in Afrikaans sal ontstaan. Anders as leenwoorde, is anglisismes Engelse woorde wat nie net ’n invloed op ’n ander taal uitoefen nie, maar daardie taal in die proses verarm en sy taaleie in die gedrang bring.

 

Anglisismes kan as indringers beskou word wat ’n ander taal kan benadeel, maar dit is verkeerd om enige woord, uitdrukking of idioom waarvan die bewoording na 'n regstreekse vertaling van die Engelse lyk, sonder meer as anglisismes te verdoem, want dit is nie noodwendig so nie. Die Engelse en Afrikaanse wyse om 'n begrip uit te druk kan dieselfde wees. Byvoorbeeld:

  • landowner = grondeienaar

Anglisismes is wanneer daar reeds ’n goeie uitdrukking in Afrikaans bestaan en die anglisismes die taaleie uitstoot om vir hulself plek te maak. Wanneer daar dus 'n eie (Afrikaanse) woord, 'n eie uitdrukking of 'n eie idioom is om jou gedagtes in uit te druk en daar nogtans van 'n Engelse vertaling gebruik gemaak word, dan kry ons ongewenste anglisismes. Nogtans, wanneer die anglisisme algemeen genoeg gebruik word, vind taalverryking plaas, veral in gevalle waar dit lomp strukture vervang en dan as deel van Afrikaans beskou word.

 


Voorbeelde

 

Hier is 'n paar voorbeelde van anglisismes wat algemeen gebruik word, gevolg deur die meer korrekte Afrikaanse uitdrukking. 

 

Doen

  • Hy doen vir my 'n guns teenoor Hy bewys my 'n guns
  • Sy gedrag doen hom eer aan teenoor Sy gedrag strek hom tot eer
  • Ons span doen vanjaar baie goed teenoor Ons span vaar/presteer vanjaar baie goed
  • Hou jy van braaivleis? Ek doen! teenoor Hou jy van braaivleis? Ja, baie!
  • Dit sal doen teenoor Dit sal deug. Dit is genoeg; voldoende.

Gaan

  • Daar sal niks verkeerd gaan nie teenoor Daar sal niks verkeerd loop nie
  • Die kwaai vrou het vir my gegaan teenoor Die kwaai vrou het my ingeklim/ingevlieg
  • Jy sal dié winter sonder 'n reënjas moet gaan teenoor Jy sal dié winter sonder 'n reënjas moet klaarkom

Hard

  • Hy is 'n harde man om voor te werk teenoor Hy is 'n streng (veeleisende) man om voor te werk
  • Dis baie hard op hom teenoor Dis baie ongelukkig vir hom/ dit laat hom baie swaarkry
  • Hy het harde arbeid gekry teenoor Hy het dwangarbeid gekry
  • Dit is baie hard op ons teenoor Dit tref ons swaar

In

  • Hy het dit in hom teenoor Dit sit in hom. Hy is die regte man daarvoor.
  • Een in 'n duisend sal dit doen teenoor Een uit 'n duisend sal dit doen
  • In drie weke se tyd is hy hier teenoor Binne drie weke is hy hier
  • Kom in! teenoor Kom binne!

Merk

  • Hy maak sy merk in die lewe teenoor Hy onderskei hom in die lewe
  • Hy is 'n gemerkte man teenoor Hy word dopgehou. Hy is gebrandmerk.
  • Merk hom in die lynstaan teenoor Hou hom dop in die lynstaan.

 

Lees meer

Op Wikipedia verskyn 'n groeiende lys van anglisismes in Afrikaans.






  


© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties