3963 aktiewe gebruikers

Teken aan
Registreer

Na mobiele weergawe


Samestellings

Samestellings is woorde wat uit twee of meer woorddele bestaan. Hierdie soort woorde moet vas geskryf word. Byvoorbeeld:

  • tafel + poot = tafelpoot
  • boek + winkel = boekwinkel
  • gunsteling + kos = gunstelingkos

 


Hoe weet ek of 'n woord 'n samestelling is (en dus vas geskryf moet word)?

Dit is 'n moeilike vraag waarop daar nie 'n maklike antwoord is nie. Daar is egter 'n aantal toetse wat 'n mens kan gebruik om te bepaal of 'n woord 'n samestelling is (en dus vas geskryf moet word). Byvoorbeeld:

 

Klemtoontoets
(Die klemtoontoets is die beste toets om te gebruik om te bepaal of twee woorde los of vas geskryf moet word.)
Die algemene beginsel in Afrikaans is dat die linkerdeel van 'n samestelling gewoonlik die hoofklem dra; daarenteen het woorde in 'n woordgroep meestal gelyke woordklem. Vergelyk byvoorbeeld:

  • Daardie boom het 'n géél wórtel (of geel wórtel). Dit is dus nie 'n samestelling nie en word los geskryf.
  • Ek het 'n géélwortel vir die donkie gegee. Dit is dus 'n samestelling en word vas geskryf.

Omstelbaarheidstoets

Hierdie toets kan veral gebruik word om te bepaal of 'n byvoeglike naamwoord (soos geel) los of vas aan 'n selfstandige naamwoord (soos wortel) geskryf moet word. 

Die algemene beginsel in Afrikaans is dat die linkerdeel van 'n samestelling nie na 'n ander posisie in die sin geskuif kan word sonder om die betekenis te beïnvloed nie; daarenteen kan woorde in 'n woordgroep verskuif word (omgestel word). Vergelyk byvoorbeeld:

  • Daardie boom het 'n geel wortel.
    Die wortel van daardie boom is geel.
     
    Die betekenis van die eerste en tweede sin is dieselfde, en daarom is dit dus nie 'n samestelling nie.
  • Ek het 'n geelwortel vir die donkie gegee.
    Ek het 'n wortel wat geel is, vir die donkie gegee.
    Die eerste en tweede sin beteken nie dieselfde nie; geelwortel is daarom 'n samestelling.

Skeibaarheidstoets

In Afrikaans is die beginsel dat daar nie 'n ander woord tussen die linkerdeel en regterdeel van 'n samestelling ingevoeg kan word nie; daarenteen kan woorde in 'n woordgroep deur ander woorde geskei word. Vergelyk byvoorbeeld:

  • Daardie boom het 'n geel wortel.
    Daardie boom het 'n geel, seningrige wortel
    In hierdie sin sê seningrige iets meer oor die wortel; dit bly egter nog steeds dieselfde wortel waarna verwys word. Dit is daarom nie 'n samestelling nie.  
  • Ek het 'n geelwortel vir die donkie gegee.
    Ek het 'n geel, seningrige wortel vir die donkie gegee. 
    Die tweede sin beteken nie dieselfde as die eerste sin nie, aangesien die spreker nie nou meer na daardie ding verwys wat die Engelse 'n "carrot" noem nie. 

Let op dat sogenaamde afstandsamestellings 'n spesiale kategorie van samestellings is wat wél deur 'n byvoeglike naamwoord (soos uitvoerende) of telwoord (soos eerste) geskei kan word. Om aan te dui dat die woord eintlik 'n samestelling is, gebruik ons dan die afstandskoppelteken. Byvoorbeeld:

  • hoof- uitvoerende beampte (die samestelling is eintlik hoofbeampte)
  • adjunk- eerste minister (die samestelling is eintlik adjunkminister)

 






  

© 2013 Beter Afrikaans is 'n gesamentlike onderneming tussen die ATKV, VivA en Martin van Toll Producties